Homo ergaster

Homo ergaster
Tydperk: Pleistoseen, 1.8–1.3 m. jaar gelede
Die skedel KNM-ER 3733, wat in 1975 in Kenia ontdek is.
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Genus:
Spesie:
H. ergaster
Binomiale naam
Homo ergaster
(Colin Groves en Vratislav Mazák, 1975)

Homo ergaster is ’n uitgestorwe spesie van Homo wat tydens die vroeë Pleistoseen in Oos- en Suider-Afrika geleef het.[1] Of H. ergaster 'n spesie op sy eie vorm en of dit in die spesie H. erectus opgeneem moet word, is 'n deurlopende en onopgeloste dispuut tussen paleoantropoloë. Voorstanders van 'n gesamentlike spesie praat gewoonlik van H. ergaster as "Homo erectus uit Afrika"[2] of "Homo erectus ergaster".[3]

Die naam Homo ergaster kan rofweg vertaal word as "werkende man",[1] 'n verwysing na die meer gevorderde gereedskap wat die spesie gebruik het in vergelyking met dié van hulle voorouers. Die fossielomvang van H. ergaster strek van sowat 1,7 miljoen tot 1,4 miljoen jaar gelede, hoewel 'n groter omvang moontlik is.[4]

Hoewel fossiele uit die hele Oos- en Suider-Afrika bekend is, is die meeste H. ergaster-fossiele aan die oewers van die Turkanameer in Kenia ontdek. Daar is latere Afrika-fossiele, waarvan sommige jonger as 'n miljoen jaar is, wat dui op langtermyn- anatomiese kontinuïteit, maar dit is onseker of hulle amptelik beskou kan word as H. ergaster-spesimens. As 'n aaneenlopende spesie kon H. ergaster gelewe het tot so laat as 600 000 jaar gelede, toe nuwe linies van Homo in Afrika ontstaan het.

Dié wat glo H. ergaster moet in H. erectus opgeneem word, reken daar is te min verskille tussen die twee om hulle as aparte spesies te beskou. Voorstanders van twee aparte spesies haal morfologiese verskille aan tussen die fossiele van Afrika en dié van Asië, en reken verder dat vroeë Homo-evolusie veel ingewikkelder is as om die twee spesies as een te beskou. Daarbenewens kan morfologiese verskille tussen spesimens wat almal as H. ergaster beskou word, daarop dui dat H. ergaster self nie 'n samehangende spesie verteenwoordig nie. Ongeag die beste klassifikasie vir hulle, toon H. ergaster primitiewe weergawes van eienskappe wat later in H. erectus voorgekom het en hulle is dus dalk die direkte voorouers van die latere H. erectus-bevolkings in Asië. Hulle is ook waarskynlik die voorouers van die latere hominiene in Europa en Afrika, soos die moderne mense en die Neanderdallers.

Verskeie eienskappe onderskei H. ergaster van Australopithecus, sowel as van vroeëre, meer basale Homo-spesies, soos H. habilis. Daaronder tel groter liggaamsmassa, relatief lang bene, verpligte tweevoetigheid, relatief klein kakebene en tande (wat dui op 'n groot verandering in eetgewoontes), sowel as liggaamsafmetings en lewenstyle wat meer met dié van die moderne mens ooreenstem as met dié van vroeëre of kontemporêre hominiene. Daarom beskou sommige navorsers H. ergaster as die vroegste ware verteenwoordiger van die genus Homo. Richard Dawkins het dit verkies en bygevoeg: "Ek sal hulle Ergasts eerder as Erects noem, deels omdat ek glo die meeste van ons gene kom van die Afrika-vorm en deels omdat hulle nie enigsins meer regop as hulle voorouers was nie".[5]

H. ergaster het op die savanne van Afrika gewoon, 'n unieke omgewing wat tot die behoefte aan nuwe en unieke gedrag kon gelei het. Vroeë Homo-lede het waarskynlik, nes moderne primate, van teenaanvalstegnieke gebruik gemaak om roofdiere weg te hou. Teen die tyd van H. ergaster het dié gedrag moontlik gelei tot die ontwikkeling van ware jagter-versamelaarsgedrag, 'n eerste onder primate. H. ergaster was 'n toproofdier.[6] Nog gedrag wat eerste in dié spesie kon begin het, sluit in die verdeling van mans en vroue in kosversameling en ware monogame bande tussen pare. H. ergaster het ook gevorderder Acheuleense gereedskap gebruik, onder meer die eerste bekende handbyle. Hoewel onbetwiste bewyse ontbreek, kon H. ergaster ook die eerste hominien gewees wat vuur beheer het.

  1. 1,0 1,1 Hazarika, Manji (16–30 Junie 2007). "Homo erectus/ergaster and Out of Africa: Recent Developments in Paleoanthropology and Prehistoric Archaeology".
  2. Tattersall 2013, p. 5.
  3. Tattersall 2013, p. 14.
  4. Wood, Bernard; Doherty, Dandy; Boyle, Eve (29 Mei 2020). "Hominin Taxic Diversity". Oxford Research Encyclopedia of Anthropology (in Engels). doi:10.1093/acrefore/9780190854584.013.194. ISBN 9780190854584. Besoek op 19 April 2021.
  5. R. Dawkins, The Ancestor's Tale, 2004, p.59.
  6. Ben-Dor, Miki; Sirtoli, Raphael; Barkai, Ran (2021). "The evolution of the human trophic level during the Pleistocene". American Journal of Physical Anthropology. 175: 27–56. doi:10.1002/ajpa.24247. PMID 33675083.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search